1 Chronicles 18
1 'n Tyd daarna het Dawid die Filistyne verslaan en hulle verneder. Hy het Gat en die omliggende dorpies van die Filistyne afgeneem.
2 Hy het die Moabiete verslaan. Die Moabiete het Dawid se onderdane geword en moes belasting betaal.
3 Dawid het ook Hadad-Eser, die koning van Soba, by Hamat verslaan toe dié gegaan het om sy mag aan die Eufraatrivier te vestig.
4 Dawid het van hom 'n duisend trekperde, seweduisend van die strydwabemanning en twintigduisend voetsoldate gevange geneem. Dawid het al die trekperde se hakskeensenings afgekap; hy het net honderd van die trekperde laat oorbly.
5 Toe die Arameërs van Damaskus vir Hadad-Eser, die koning van Soba, te hulp kom, het Dawid twee-en-twintigduisend man uit Aram neergevel.
6 Dawid het by die Arameërs van Damaskus garnisoene geplaas. Die Arameërs het Dawid se onderdane geword en moes belasting betaal. Die Here het Dawid te hulp gekom oral waar hy gegaan het.
7 Dawid het die rondeskilde van goud wat die dienaars van Hadad-Eser by hulle gehad het, gevat en dit na Jerusalem gebring.
8 Uit Tibgat en Kun, stede van Hadad-Eser, het Dawid besonder baie brons gevat. Daarmee het Salomo die bronswaskom, die pilare en die bronsgereedskap gemaak.
9 Toe Toï, die koning van Hamat, hoor dat Dawid die hele leër van Hadad-Eser, die koning van Soba, verslaan het,
10 het hy sy seun Hadoram na koning Dawid gestuur om te vra hoe dit met hom gaan en om hom geluk te wens omdat hy teen Hadad-Eser oorlog gemaak en hom verslaan het, want Hadad-Eser was altyd in gevegte gewikkel met Toï. Hadoram het voorwerpe van silwer, goud en brons saamgebring.
11 Ook dit het koning Dawid aan die Here gewy, saam met die silwer en goud wat hy by al die nasies gevat het – by die Edomiete, die Moabiete, die Ammoniete, die Filistyne en die Amalekiete.
12 Abisai, seun van Seruja, het die Edomiete in die Soutvallei verslaan, agttienduisend van hulle.
13 Hy het in Edom wagposte geplaas en al die Edomiete het onderdane van Dawid geword. Die Here het Dawid die oorwinning gegee oral waar hy gegaan het.
14 Dawid het oor die hele Israel regeer, en hy het vir sy hele volk gedoen wat reg en billik is.
15 Joab, seun van Seruja, was in bevel van die leër, en Josafat, seun van Agilud, was die herout.
16 Sadok, seun van Agitub, en Abimeleg, seun van Abjatar, was priesters; Sausa was sekretaris,
17 en Benaja, seun van Jojada, was in bevel van die Kreti en Pleti. Dawid se seuns was die belangrikste persone aan die koning se sy.